Welkom by SAVTEC
Baie welkom by SAVTEK – die Suid-Afrikaanse Federasie van Veteraan-trekker-en-enjinklubs. Op hierdie webblad probeer ons so goed as moontlik die organisasie en sy lidklubs bekendstel.
In April 1988 is die Veteraan-trekkerklub van Suid-Afrika deur ‘n groep Natallers in Pietermaritzburg gestig. Hulle was Nic March (voorsitter), Peter Hull, Trevor Lewis, Frans Buys, Bob Wilson en Steward Campbell. Soos die naam van die organisasie aandui, was hul enigste doel die versamel van, en die bevordering van die saak van veteraan-trekkers. Die idee het baie vinnig oor die hele Suid-Afrika posgevat. Op 10 Junie 1989 is die eerste algemene jaarvergadering by Golden Gate in die Vrystaat gehou.
Teen 1993 was die betrokkenheid van die “enjinmanne” al so groot dat ‘n besluit op die algemene jaarvergadering geneem is om die naam van die organisasie te verander na die Veteraan-trekker-en-enjinklub van Suid-Afrika. Mettertyd is klubs ook oral in Suid-Afrika gestig, maar het as takke van die “moederklub” gefunksioneer.
In die jaar 2000 het die laaste verandering ingetree toe die oorspronklike klub met sy takke op ’n vergadering in Bloemfontein omvorm is in die Suid-Afrikaanse Federasie van Veteraan-trekker-en-enjinklubs (SAVTEK) waar die selfstandige klubs oor bepaalde sake saamwerk sonder om hul karakter en individualiteit in te boet. SAVTEK se eerste voorsitter was Nic Vallentgoed. Die bewaringsaktiwiteite is ook uitgebrei om plaasimplemente, bakkies en lorries in te sluit.

